Die Verkennersbeweging wil graag alle
vryheidsliewende volksgenote ‘n voorspoedige 2007 toewens, asook
sterkte vir die jaar wat voorlê.
Ongelukkig gaan ons goeie wense slégs aan dié
volksgenote wat onbeskaamd en onverskrokke volksvryheid nastreef en
hulle daarvoor beywer. Die ander wat nie vryheid begeer nie, het
dus ook nie sterkte nodig nie, want hulle het geen stryd om te stry
en geen ideaal om te verwesenlik nie. Hulle het vrede gemaak met
die Nuwe Suid-Afrika waar Engels die voertaal is, misdaad die
hoofbedrywigheid is en affirmative action die arbeidspraktyk is.
As ons volksgenote sterkte vir die nuwe jaar
toewens, is dit omdat daar ‘n stryd te stry is. ‘n Stryd vir ons
taal, ‘n stryd vir ons simbole, ‘n stryd om ons pas geslaagde
matrikulante aan die werk te kry, ‘n stryd om ons radio te behou, en
ja, uiteindelik ook ‘n stryd om ons geloof te behou. Dit is nie
aldag maklik nie, want stryd vereis opofferings, en ‘n stryd maak
nie gewild nie. Inteendeel, ‘n mens is nie gewild as jy in die
supermark die tou ophou omdat jy aandring om in Afrikaans gehelp te
word nie. Maar dit is hierdie soort uitdagings wat ook weer in 2007
vir ons wag, en waarvoor ons weer eens nie mag terugdeins nie.
Ons vryheidseis en vryheidstrewe behoort in hierdie
jaar sterker as ooit tevore gestel te word. Dit beteken dat ons
onsself bester en sterker as voorheen moet identifiseer as Boere wat
daardie strewe dra. 2007 is die jaar van die Vierkleur, en dit skep
‘n uitstekende geleentheid om presies dit te doen: om ons te
identifiseer, selfs sigbaar deur die vertoon van ons volksimbole.
Ek glo ook in ons volkslewe moet ons, terwyl ons
besig is om nader aan mekaar te beweeg, tog een lyn skerper trek.
Daardie lyn is die vryheidsideaal. Ons sal in die toekoms nie die
dooie gewig van saamwerkers met die nuwe Suid-Afrika kan dra nie.
Om vryheid na te streef, om ‘n eie land vir die Boerevolk te begeer,
kom neer op ‘n revolusie. Geen gewelddadige revolusie nie, maar
enige strewe na ‘n verandering van die staatsbestel, word
gedefinieer as revolusionêr, en dit beteken dat elke vryheidstryder
in wese ‘n revolusionêr is, hoe vreemd of moeilik, self
onaanvaarbaar dit ook al mag klink.
Die bokke en die skape van ons volk sal onderskei
word deur daardie vryheidstrewe. So ook die organisasies, bewegings
en instellings wat dikwels aanspraak maak op volksentiment en
volksondersteuning. Dit het tyd geword dat elke instelling reguit
sê waar hy staan ten opsigte van volksvryheid, want dit sal die
koers vir die toekoms bepaal, en sal bepaal tot welke mate so ‘n
organisasie werklik op volksondersteuning kan aanspraak maak.
Ons het elke klein oorwinninkie nodig om ons mense
te laat moed hou, maar uiteindelik kan ons slegs ons Christelike
geloof ongehinderd en vry van vreemde leringe uitleef in ‘n vrye
omgewing. Ons sal slegs ons taal werklik kan laat groei en leef in
‘n vrye land. Ons sal slegs ongehinderd kan boer in ‘n vrye,
onafhanklike Boererepubliek, en ook ons arbeid sal slegs weer
normaal kan wees in ‘n onafhanklike land. Daarom is dit noodsaaklik
dat alle organisasies en instellings in ons volkshuishouding hulle
ondubbelsinnig tot vryheid verbind. Maar dit sal ook aan die vyand
‘n ondubbelsinnige boodskap uitstuur: vryheid of moeilikheid op baie
terreine.
Laat ons in 2007 ook ‘n daadwerklike poging aanwend
om ons volksekonomie rigting te gee. Ondersteun ons eie mense, en
ondersteun dié instellings wat voorkeur gee aan volkseie arbeid, al
kos dit dalk ‘n sent of twee meer, maar dit is uiteindelik ‘n
belegging in ons ekonomie, én ons kinders wat werk kry.
Mag 2007 ook ‘n kultuurjaar soos min wees. Kom ons
ruk op in groot getalle op 6 Januarie na Potchefstroom om die
herdenkingsgeleentheid van die Vierkleur by te woon. Kom ons ruk in
groot getalle op na Majuba die laaste naweek van Februarie. Laat
ons alle volksfeeste deur die jaar in groot getalle ondersteun,
gewapen met ons Vierkleure, soos Van Riebeeckdag, Republiekdag, Paul
Krugerdag, Geloftedag.
En mag dié kerke wat nog die Woord van God in sy
volle waarheid verkondig, hierdie jaar elke week vol wees, en mag
dié wat duidelik begin afdwaal het, selfs vals begin word het,
leegloop.
Vir die ANC, wat ons as volk wil uitwis, het ons
uiteraard geen goeie nuwejaarswense nie. Ons gun hulle elke
korrupsieskandaal, elke gat in Kaapstadse aanloopbaan, elke
teenkanting teen die Groenpunt-stadion, en ons gun hulle hulle
histerie as die Boere ‘n Vierkleur of Republiekvlag vertoon. Ons
beoog om hulle baie daarvan in 2007 te gee!
Maar dit sal nie vir ons help om ons net te
verlekker in die ANC se probleme nie. Ons moet doelgerig,
pro-aktief werk aan ons vryheid, ons moet nuut dink en anders optree
as voorheen. Daarvoor moet ons georganiseerd wees. Ons beroep op
elkeen is om betrokke te wees by een van dié organisasies wat
volksvryheid nastreef, en dat dié organisasies dan ook nouer
saamwerk om ‘n ware volksfront te vorm. Dié wat dan nie so voel oor
vryheid nie, kan ons maar gerus laat links lê, want hulle sal net ‘n
blok aan ons been bly.
Ons as Verkennersbeweging sal 2007 weer gebruik om
die ANC maksimaal te irriteer en om ons volk te mobiliseer. Daarom
sal ons dikwels dit sê wat u dink, want ons glo: eie volk eerste.
Sien u nou waarom ons net ons vryheidsliewende
volksgenote sterkte en voorspoed toewens vir 2007? Want alles sal
regkom, as elkeen sy plig doen deur te werk en te bid. Dan sal die
Vierkleur weer wapper!
Henk van de Graaf
President: Verkennersbeweging van
Suid-Afrika